Skip to main content

Trane met Tande

“Haar selfgesentreerdheid maak haar hart swart.”

 

Ons het almal al iemand ontmoet wie se trane eintlik tande is — trane wat nie vloei van eerlike seer nie, maar van onvermoë om vrede te maak met hul eie lewenskeuses. En dan bloei daardie seer op mense wat niks gedoen het nie, mense wat net met liefde en goeie bedoelings in hul lewens gestaan het.


Die impak van daardie “trane” op ander — veral op diegene wat nog nie al die lewenservaring het nie — is enorm. Hulle moet nog leer van verhoudings, liefde, vriendskap en familie… en tog word hul prentjie al klaar gekleur deur iemand anders se bitterheid. En diegene wat probeer heelmaak, wat hard probeer wys wat liefde regtig is, baklei teen ’n muur. Tyd is net nooit genoeg om die skade volledig te keer nie.

Die enigste hoop is dat die liefde wat in jou eie huis weerspieël word, eendag ’n sterker prentjie sal vorm as die verwronge een wat deur daardie trane geskets word.


Die woorde en dade stem selde ooreen. Onmenslikheid herhaal homself. Selfsugtigheid kry ’n naam én ’n gesig. En al die dinge waarteen jy jouself daagliks probeer beskerm — dié dinge waarvan jy jouself belowe het jy sal nooit word nie — laat jou soms voel asof jy geforseer word om ook so op te tree.

Maar dan herinner jou eie hartseer jou aan iets belangrik: kyk na die groter prentjie, nie net die oomblik nie. Jou seer het jou geleer om die lang-termyn te sien. En elke gebeurtenis maak dié tou net ’n bietjie langer…


Ek, wat al self deur baie gegaan het en meer as een keer die tande wou wys, het my benadering verander. Die impak lê nie daarin om terug te byt nie. Die impak kom wanneer jy die klippe en kritiek gebruik om ’n fondasie van groei te bou — om verlore vriendskappe te herstel, bestaande bande te versterk en jouself weer te ontdek. Daar was al soveel kere waar die wildeteef in my wou uitkom. Waar ek bitter graag wou reageer. Maar dan, ná ’n diep asem, onthou ek: ek is beter as dit. Dit is teen my menswees om ander se pyn met pyn te beantwoord. Ja, ek sal opstaan vir wat reg en verkeerd is — maar om iemand te behandel asof ek geregtig is om te seer, veral as ek daardie persoon herhaaldelik te na gekom het, is nie in my karakter nie. Dan sak my kop in skaamte en probeer ek eerder groei. En elke keer wat iemand glo hul optrede is reg, rek daardie tou weer ’n nóg bietjie…


“Verantwoordelikheid” word so maklik rondgegooi. Ek glimlag soms van binne wanneer mense dit uiter, want min verstaan werklik wat dit beteken. Om verantwoordelikheid te neem is om te kan sê: “Ek het ’n fout gemaak, ek erken dit, en ek dra die gevolge — selfs al beteken dit dat geliefdes my dalk sal wegstoot.” Daardie tipe volwassenheid is skaars. En wanneer dit ontbreek, word die tou nóg langer…


Op hierdie oomblik staan ons almal op ’n skaakbord, en die dans tussen swart en wit voel soms donkerder as wat dit lig is. Maar stadigaan word die lig helderder. En ek wéét: daar kom ’n dag wanneer die poppe gaan dans. Wanneer die tande geen mag meer het nie. Wanneer die laaste lag, werklik die lekkerste lag gaan wees.


En vir die vrou wat haarself in dieselfde posisie bevind:

Ken jou waardes. Hou by jou standaarde. Bou jouself. Wees jouself. Want iemand wat trane huil net om tande te wys, sal nooit jy kan wees nie. En selfs al probeer sy, sal sy nie kan nie — want jy is uniek gemaak uit liefde en omgee. Wees die mooi voorbeeld wat hierdie wêreld so nodig het.


Met liefde & koue koffie
 ☕ Chané
Balans tussen deadlines, drome & dirty dishes

© 2025 Liefde, Laptops & Growing Feet. All rights reserved. All words, photos, and content on this blog belong to me unless stated otherwise. Please don't copy, repost, or use anything from this site without asking first. Sharing a short quote with a clear credit and link back is okay - but please don't use full posts or images without permission. For permission or questions, contact me at chane@liefdelaptopsgrowingfeet.co.za